Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Handwuif vir die poetsvrou

“Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het” (Luk 1:46-48).

’n Vrou wat elke oggend die vloere van die parlementsgebou moes poleer, het eenmaal teenoor haar vriendinne opgemerk: “Elke oggend wanneer die lede, die amptenare en die ministers hier inkom om hulle dagtaak te begin, loop hulle by my verby sonder om goeiemôre te sê of my eens raak te sien. Nie een kyk na my nie. Hulle koppe is vol landsake, vol aangeleenthede wat die massas raak. Ek is immers net die poetsvrou. Maar weet julle, elke oggend as die president hier inkom, lig hy sy hand in ’n vriendelike groet en sê: ‘Goeiemôre, Mevrou!’”

Die geboorte van die Seun van God se presies dít: God self kyk na ons asof Hy niks anders het om te doen as om na ons te kyk nie. Hy kan sy oë nie van ons af hou nie! Sy blik verander my en jou van ’n massamens in ’n Koningskind. Sy stem klink elke oggend vars in ons ore op wanneer Hy sê: “Goeiemôre!” En Hy sê dit asof dit die heel eerste Kersoggend is.

Maria, die jong meisie wat die moeder van Jesus geword het, moes iets hiervan ervaar het. Daarom sing sy ’n loflied tot God: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het” (Luk 1:46-48).

Dit klink ongelooflik, maar dis waar. Met die geboorte van Jesus lig God sy hand in ’n groet na my en na jou. Al is ons dalk net ’n poetsvrou.

God self kyk na ons asof Hy niks anders het om te doen as om na ons te kyk nie.

Here Jesus, dankie dat ek u oogappel is. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.