Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In die verkeer

Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Heb 4:15).

God is nie soos ’n verkeersamptenaar wat vanuit ’n helikopter, hoog bo die aarde, die verkeer reguleer nie. Die aarde lê nie ver onder Hom sodat die mense vir Hom soos miertjies op geteerde strepies lyk nie. Hy gee nie bloot daar van bo af instruksies en kyk onbewoë na die verkeersknope en botsings, die bloed wat in die tref-en-trap-ongelukke vloei nie.

God is veel eerder die verkeersman wat ons veilig begelei oor die straat van die lewe, wat ons hand vashou en ons troos in ons ongelukke, wat ons bystaan in die knope waarin die lewe – en onsself – ons vasvang. In Christus staan Hy langs ons. Hy self ken die versoekings waarin ons beland om teen die aankomende verkeer in die straat oor te steek; om oor die tou te trap; om die verkeerde afrit te neem.

Nee, ons het nie ’n God wat geen medelye met ons swakhede het nie. In sy lewe op aarde is Hy, net soos ons, in elke opsig aan versoeking onderwerp. Die verskil is net dat Hy nie gesondig het nie (Heb 4:15).

Miskien het jy vandag by ’n kruispunt in jou lewe gekom. Miskien voel dit asof jy in ’n doodloopstraat is. Dalk voel dit asof jy nooit weer op die regte pad sal kan kom nie, nooit weer na ’n veilige baan sal kan terugkeer nie. Dit is nie so nie. God het in Christus op al die weë van menswees gestap, sonder om in die slaggate van die sonde te trap. Trouens, Hy het ’n nuwe weg vir jou gebaan, die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6). Dit lei na die nuwe stad Jerusalem. Hou goeie moed!

God het in Christus op al die weë van menswees gestap, sonder om in die slaggate van die sonde te trap.

Jesus, dankie dat U nie by die wrakstukke langs die pad verbystap nie, maar dit herskep. Ook vir my. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.