Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gekraakte koperkoepel

Moenie bang wees nie, Ek is by jou (Jes 43:5).

Die beroemde Spaanse skilder Picasso het ’n skildery gemaak van mense wat onder ’n toe hemel woon. Die enigste lig wat van bo af kom, is dié van bomme wat mense op mekaar werp. Daarmee het Picasso die lewensgevoel van die moderne mens op doek vasgelê, die gevoel dat God afwesig is, dat die hemel bokant ons soos ’n onkraakbare koperkoepel is, waardeur geen lig op die aaklighede van die ondermaanse val nie.

Maar die Christelike geloof weerspreek so ’n lewensiening. Ons glo dat God self in sy Seun uit die hemel na hierdie wêreld gekom het. Ons glo dat die onkraakbare koperkoepel inderdaad oopgekraak is, dat die lig van God inskyn tot in die donkerste uithoeke van ons hart en die wêreld.

Die hemel bokant ons is oop! Meer nog, die hemel het in die Seun na ons neergedaal! Weliswaar werp ons nog ons bomme op mekaar, maak ons nog die ondermaanse aaklig. En tog is alles anders. Daar is lig, uitsig, hoop, ’n toekoms. Daar is geen situasie waarin jy jou kan bevind, geen diepte, geen donkerte, geen aakligheid, waarin die lig van God nié skyn nie. God is daarby, daar binne-in. Hy sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou” (Jes 43:5).

Daarvan is Jesus die bewys. Hy is Immanuel, God by ons!

Daar is geen situasie waarin jy jou kan bevind, geen diepte, geen donkerte, geen aakligheid, waarin die lig van God nié skyn nie.

Here Jesus, skyn deur my. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.