Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn (Tit 2:11).
Wat is die verskil tussen die Christelike godsdiens en alle ander godsdienste van die wêreld? Waarom meen Christene dat Jode of Moslems byvoorbeeld nie op grond van hulle geloof gered word nie? Is dit enigsins nodig om mense van ander godsdienste te probeer oorhaal om in Christus te glo? Wat maak die Christelike geloof uniek? Wat is die spesifieke, die uitsonderlike van ons geloof? Dít waarvan Christene andersdenkendes so graag wil oortuig?
Hierop is daar sekerlik baie antwoorde te gee. Maar die groot verskil tussen die Christelike geloof en ander godsdienste kan in ’n neutedop saamgevat word:
In alle ander godsdienste moet mense “opklim” na hulle God toe; in die Christelike geloof kom God “af” na mense toe. In alle godsdienste van die wêreld is daar die strewe om op die een of ander manier by “God” uit te kom deur sekere reëls of wette na te kom. Weliswaar is daar soms sprake van “genade”, maar nooit soos dit in die Christelike godsdiens verstaan word nie.
In die Christelike godsdiens word daar nie van mense gevra om hulleself deur inherente vermoëns, ingebore godsdienstigheid of stiptelike toewyding “goed genoeg” te maak om deur God aanvaar te word nie. Ons hoef ons op geen manier “op te domkrag” om by Hom uit te kom nie. Nee, God het na ons toe gekom! “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn” (Tit 2:11). Dít maak my en jou Christene.
Die Christelike geloof is uniek omdat ons God so uniek is!
Die Christelike geloof vra nie van ons om ons na God toe op te domkrag nie. God daal af na ons toe.
Here Jesus, selfs die enkele treë wat ek na U toe gee, is u geskenk van genade aan my. Ek kom na U toe! Want U het na my toe gekom. Amen.
Johan Cilliers