Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak (1 Joh 1:1).
Lank voordat die Amerikaners Neil Armstrong en Edwin Aldrin met die maantuig Eagle op die maanoppervlak geland het, het die Russe vir Juri Gargarin in ’n wentelbaan om die aarde geplaas. Toe hy terugkeer van sy epiese reis, was sy siniese opmerking in ’n personderhoud dat hy nie vir God daarbo gesien het nie. Hy het oral gesoek, het hy gesê, maar net hemelliggame en leë ruimte gesien. Geen God nie. Daarom, meen hy, is daar geen God nie.
’n Paar maande later het ’n ander Amerikaanse ruimtevaarder ná sy terugkeer uit die ruimte gesê dat ook hy nie vir God daarbo gesien het nie. Maar, het hy bygevoeg, dit was ook nie nodig nie. Hy het immers al vir God op die aarde gesien: in die krip in Betlehem.
’n Mens kan maklik by Jesus verbykyk. Jy kan in Hom maar net nog ’n kindjie sien, gebore op ’n bepaalde tyd en plek in die geskiedenis. Of jy kan na Hom kyk en God self sien. Johannes wat, soos die ander dissipels, letterlik vir Jesus gesien het, kon sê: “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak” (1 Joh 1:1).
In die geloof kan ook ons in die Kindjie vir God self sien. Al leef ons 2 000 jaar ná sy geboorte, en al was ons nooit in die ruimte om Hom te soek nie. Jy hoef nie na die sterre te reik om God te sien nie. Jy hoef maar net hoog genoeg op jou tone te staan om oor die rand van die krip te kyk …
’n Mens kan maklik by Jesus verbykyk, in Hom maar net nog ’n kindjie sien, gebore op ’n bepaalde tyd en plek. Of jy kan God in Hom sien.
Jesus, haal tog die sterre uit my oë sodat ek U kan sien. Amen.
Johan Cilliers