“Ek is tot beskikking van die Here” (Luk 1:38).
Die feit dat Maria se naam in die geloofsbelydenis genoem word, kan ’n mens maklik in die versoeking bring om haar te vereer, selfs as ’n goddelike wese, want as moeder van Jesus kan sy tog darem nie ’n mens soos ons wees nie. Ons ken die siening van sommige kerklike tradisies hieroor: Hulle beskou Maria in die ware sin van die woord as “Moeder van God”, sê dat sy ewigdurende maagdelikheid besit het, onbevlek ontvang is, liggaamlik na die hemel opgevaar het, ensovoorts. So gesien, word Maria later ’n medeverlosser. En dit kan tog nie, want “daar is immers net een … Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Tim 2:5). “Hy bring die verlossing en niemand anders nie” (Hand 4:12).
Nee, Maria word in die Evangelies en die geloofsbelydenis genoem nie as ’n voorwerp van verering nie, maar as iemand wat in ’n geloofsverhouding met God en Jesus gestaan het. Dus ’n mens net soos ons. Maar ’n gehoorsame mens, wat nie vereer moet word nie, maar nagevolg kan word. Maria se nederige oorgawe blyk duidelik wanneer sy sê: “Ek is tot beskikking van die Here” (Luk 1:38). Daarom vra sy ons aandag.
Daar is niks uniek aan Maria nie. Sy het geen verhewenheid weens haar liggaamlike verbintenis met Jesus nie. Haar betekenis lê in haar geloof. Sy staan aan ons kant, is een van ons, soos ons. In haar geloof en haar oorgawe dat God haar kon gebruik, sien ons dat geloof ’n leë hand is wat bloot ontvang wat God daarin plaas.
In Maria sien ons God se onverdienstelike genade. En hierdie genade het nog nooit minder geword nie …
Maria roep ons op tot geloof, want sy staan aan ons kant, is een van ons, soos ons.
Here Jesus, dankie dat ek in die geloof van Maria u genade aan die werk kan sien. Werk ook met my. Amen.
Johan Cilliers