“Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het” (Luk 1:48-49).
Nêrens blyk die geloofsgesindheid van Maria duideliker as in haar loflied tot die Here nie (Luk 1:46-56). In hierdie lied sing sy oor wat God gedoen het, oor sy grootheid. Vandaar die tradisionele naam Magnificat – geneem uit die Latynse woorde waarmee die lied begin: Magnificat anima mea Dominum (“My siel maak die Here groot”). Daar is soveel treffende momente in hierdie lied. Die eerste is die persoonlike belydenis dat God na haar in haar geringheid omgesien het, dat Hy aan haar groot dinge gedoen het (v 48-49). God wat die Magtige is (v 49), het hierdie mens, Maria, raakgesien!
Ware geloof sluit altyd ’n persoonlike oortuiging, ’n persoonlike ervaring van God se dade in ’n mens se lewe in. Dis meer as om maar net ’n paar “objektiewe” feite oor God of Jesus te weet. Geloof is om “subjektief” betrokke te wees. Dit gaan oor jou … en God. Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan die liedjie waarin iemand gevra word hoe hy weet dat Jesus leef. Dan kom die kinderlik gelowige antwoord: “Ek weet Hy leef, want Hy leef in my hart! In die oorspronklike Engels: “He lives! He lives! Christ Jesus lives today. He walks with me and He talks with me along life’s narrow way. You ask me how I know He lives? He lives within my heart.”
Weet jy dit? Sing dan – soos Maria – daarvan!
Ware geloof sluit altyd ’n persoonlike oortuiging, ’n persoonlike ervaring van God se dade in my lewe in.
Jesus, ek kan nie so mooi sing soos Maria nie. Dankie dat U my krom note nogtans hoor en vreugde daarin vind. Amen.
Johan Cilliers