“Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming” (Luk 1:54).
Ons het gister nagedink oor die ontferming van God waarvan Maria in haar lofsang sing (Luk 1:50). Hierdie eienskap van God het alles te make met sy trou. ’n Mens sou die begrip ontferming ook kon vertaal met “trou”, “verbondstrou”, “ontfermende getrouheid” of “getroue ontferming”.
Maria het God uit haar geloofservaring só leer ken, maar sy het dit ook geweet uit die ervaring van haar voorgeslagte waarvan sy gehoor het. Van geslag tot geslag, het hulle getuig, bly Hy getrou (v 50). God het “gedink” aan die beloftes van ontferming wat Hy aan die voorvaders gemaak het; aan Abraham en sy nageslag, tot in ewigheid (v 54-55). Dié beloftes het God gestand gedoen. Want Hy is nie vergeetagtig nie. Hy het sy volk, en daarom ook vir ons, nooit in die steek gelaat nie. Sy trou laat Hom onthou.
Dit sien ’n mens deur die geskiedenis van die mens heen, en in die besonder van die volk Israel. Die duidelikste “bewys” hiervoor is die Kindjie Jesus wat gebore is. Daar was werklik geen enkele rede waarom Jesus gebore moes word nie. Inteendeel. Deur die eeue heen het die mense God vergeet. Soos ons ook maar doen, het hulle sy Woord verwerp. Ons was ontrou. Maar God het getrou gebly!
Dit gee ons moed om vorentoe te gaan. Die toekoms hang nie van ons af nie! Ons sal maklik mekaar, ons planeet en vir God in die steek laat. Maar God is anders. Die goeie werk wat Hy in ons begin het, sal Hy enduit voer en dit “voleindig op die dag wanneer Christus Jesus (weer) kom” (Fil 1:6).
Want Hy is getrou …
God is nie vergeetagtig nie. Sy trou laat Hom onthou.
Here Jesus, my ontrou beskaam my. U trou verbly my. Amen.
Johan Cilliers