“… behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes” (Luk 1:53).
Wanneer Maria in haar Magnificat sing oor die ontferming van God, oor sy troue vervulling van sy beloftes (Luk 1:46-56), kom die vraag op:
Wie is dit eintlik oor wie Hy Hom ontferm en aan wie vervul Hy sy beloftes? Die verrassende antwoord? Nie die vooraanstaandes en die verdienstelikes nie, maar die geringes en die behoeftiges (v 52-53)!
Wanneer Maria in haar loflied van hierdie mense praat, bedoel sy waarskynlik in die eerste plek mense wat in konkrete noodsituasies verkeer; mense wat werklik verlang na hulp, wat verstote voel, eensaam en beproef. Hulle is immers die mense wat veral weet dat hulle hulleself nie kan help nie. Dit is hulle wat besef dat hulp alleen van die Here kom, en Hom daarvoor eer (v 50).
Geloof behoort aan mense wat weet hoe volkome afhanklik hulle van God is, en wat daarom net leef deur sy ontferming. Hulle weet dat alles van God se seën afhang. Want al ons sorge, ons arbeid en selfs die gawes van God kan ons nie baat sonder sy seën nie. Om te sê dat ons nie sonder sy gawes kan leef nie, is nie genoeg nie. Ons kan nie sonder God leef nie!
Soos ’n kindjie afhanklik is van die versorging van sy of haar ouers, so is ons afhanklik van die troue sorg van God. Hy is by uitstek ons Vader. As ouers wat nie volmaak is nie, dan weet om vir hulle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal ons Vader wat in die hemel is goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra (Matt 7:11)? Daar is niemand wat te gering en te behoeftig is dat God nie vir hulle sal sorg nie.
Hy sorg trouens júis vir sulke mense …
“Kwalifiseer” jy?
Daar is niemand wat te gering en te behoeftig is dat God nie vir hulle sal sorg nie.
Jesus, ek is uit eie krag tot niks in staat nie. Ek kwalifiseer! Amen.
Johan Cilliers