Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil 2:8).
As Christene weet ons dat Jesus “vir ons gely het”. Maar ons dink meestal sy lyding het eers teen die einde van sy lewe begin en ’n hoogtepunt op Golgota bereik. Natuurlik het Hy daar op ’n besonder intense manier gely. Maar sy hele lewe, van geboorte tot sterwe, was een massiewe stuk lyding. Net die feit dat Hy uit die hemel moes kom, dat Hy sy heerlikheid moes prysgee, was reeds ’n stuk matelose vernedering en lyding. Die bekende woorde in Filippense 2:6-8 stel dit onvergelyklik: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
Jesus se hele lewe het heengewys na die kruis. Die Skrifverklaarder Martin Kahler skryf dat die Evangelies eintlik kruisverhale is; die res van elke verhaal is net ’n lang inleiding. Daarom het alles wat in die Evangelies gesê word ’n dringendheid, ’n onrustigheid, ’n gerigtheid. Alles yl heen na die kruis. By hierdie omvattende lyding van Jesus gaan ons ’n rukkie stilstaan. Nou is dit genoeg om net te sê: Jesus is gebore – vir my; leef – vir my; sterf – vir my. Kortom: Hy ly – vir my.
Jesus se hele lewe, van geboorte tot sterwe, was een massiewe stuk lyding.
Here Jesus, ek begryp dit nie, maar ek glo dit: U het gely om my te bevry. Amen.
Johan Cilliers