Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Onder God se weerligafleier

“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46).

Om iets van die lyding van Jesus te begryp, moet ’n mens begryp dat dit ’n vertikale en ’n horisontale dimensie het.

Die vertikale aspek van Jesus se lyding het daarmee te doen dat Hy ly weens die toorn van God oor die sonde. Ja, dit was niemand anders nie as God, die Vader, wat Jesus, die Seun, laat ly het. Daarom is dit dat Jesus op die dieptepunt van sy lyding aan die kruis gevoel het dat ook God Hom verlaat het, en Hy roep uit: “My God, my God, waarom …?” (Matt 27:46). Die volle betekenis van hierdie woorde sal ons menslike verstand seker nooit kan ontrafel nie. Wat moet dit alles van Jesus gevra het? Dat Hy, wat waarlik God is, van God verlate was? Hier pas dit ons om te swyg … en net dankbaar in aanbidding te buig. Want al wat ons hiervan kan begryp, is dat Jesus gely en gesterf het weens die oordeel van God oor die sonde … sodat ons, sondaars, hierdie oordeel kan vryspring.

In Amsterdam is daar ’n kerk met ’n goue kruis op die toring. Bo-op die kruis, waar niemand dit kan sien nie, is ’n weerligafleier. Wanneer ’n donderstorm die stad tref, word die blitse van bo daardeur onskadelik gemaak. Weerligafleiers op kruise op kerke is sekerlik goed om veiligheidsredes. Maar meer nog, dit kan ons ook herinner aan die dag op Golgota toe die storm van God se oordeel die kruis van Christus getref het. Daar was geen weerligafleier nie! Aan die kruis word Jesus van Bo getref, geslaan, geskroei, gedood. Hy self was die Groot Weerligafleier wat God se toorn van my en jou afgelei het. Daarom kan ons vandag in die oopte, voor die aangesig van God, leef. Sonder vrees. Veilig. En vry.

By die kruis pas dit ons om te swyg … en net dankbaar in aanbidding te buig.

Jesus, wat my moes tref, het U getref. Duisend, duisend maal, o Here, my dank en ere. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.