Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Onder die skalpel

God (het) deur Christus die wêreld met Homself versoen en die mense hulle oortredinge nie toegereken nie (2 Kor 5:19).

Die lyding van Jesus het ook ’n horisontale dimensie. Dit sluit in dat Hy nie alleen vanweë God se toorn gely het nie, maar ook namens die ganse mensdom.

Jesus se lyding was plaasvervangend. Hy het in my plek gely, ter wille van my … vir alle mense. Paulus se woorde in 2 Korintiërs 5:19 bevat ’n treffende vervlegting van hierdie vertikale en horisontale dimensies. Hy skryf: “Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.”

God het deur Christus die wêreld met Homself versoen!

Dít is die evangelie!

Jesus is dus nie soos ’n kundige chirurg wat bloot die kwaad uit die wêreld uitsny en so sy afstand bewaar nie. Nee, Hy kom self onder die skalpel.

Hy hanteer ons nie met steriele handskoene nie, maar bloei saam met ons op die operasietafel. Maar sy “teater” van lyding was veel erger as wat ons s’n ooit is, of kan wees.

Hy bloei op Golgota. Hy ly sonder om die narkose van daardie tyd – ’n mengsel van wyn en gal – te neem (Matt 27:34).

Hy doen dit sodat ek, en die wêreld, genees kan word.

Jesus hanteer ons nie met steriele handskoene nie, maar bloei saam met ons op die operasietafel.

Here Jesus, die sonde het my siek gemaak. Dankie dat U my geneesheer én my plaasvervanger in die dodesaal is. Ek is genees! Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.