Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dood-ernstig

Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur (Matt 27:45).

Maria is die eerste gewone mens wie se naam ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis hoor. Die tweede is dié van Pontius Pilatus. Ons kan nog ’n mate van begrip hê vir die insluiting van Maria se naam. Sy was immers Jesus se aardse moeder. Maar Pontius Pilatus s’n stuit ons voluit teen die bors. Hy was tog ’n wrede, wêreldse regter, die een wat die finale sê gehad het oor die lewe of dood van Jesus Christus. Wat soek hý in die belydenis?

En tog hoort Pilatus in die belydenis. Die eerste rede daarvoor is dat sy naam, soos Maria s’n, wys op die historiese werklikheid van Jesus se lewe en lyding. Jesus ly immers nie vir engele nie, maar vir mense, vir my en jou. Wanneer Hy sterf, is dit om drie-uur die middag (Matt 27:46, 50); dus op ’n gegewe tydstip in die geskiedenis. Die naam van die Romein Pilatus, van 26 tot 36 nC goewerneur van die provinsies Judea en Samaria in Palestina, herinner ons dat die Man wat hy ter dood veroordeel het, se kruis nie geplant gestaan het in ’n sondelose sone van die heelal nie, maar op aarde, in die geskiedenis van hierdie wrede, woeste wêreld.

Geloof in Jesus laat ons ook nie ontsnap uit hierdie wêreld na ’n Christelike sprokiesparadys waar daar geen spoor meer is van lyding en ellende nie. Ons word in hierdie wêreld verlos, maar nie uit hierdie wêreld nie. Jesus se kruisdood, sy lyding onder Pontius Pilatus, bevestig opnuut dat God dit ernstig met hierdie wêreld bedoel. Dood-ernstig.

Ons word in hierdie wêreld verlos, maar nie daaruit nie.

Jesus, dankie dat U na ’n wêreld gekom het wat nie deur engele bewoon word nie, maar deur mense soos Pilatus. En soos ek. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.