… die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12:2).
Op ’n heuwel naby die hawe Macao aan die suidkus van China het Portugese nedersetters ’n massiewe katedraal gebou. ’n Paar eeue gelede het ’n tifoon die gebou in puin gelê. Net die voorste muur het behoue gebly. Op die bopunt van hierdie muur is die groot bronskruis wat die nedersetters daar geplaas het steeds te sien.
Naby hierdie plek het sir John Bowring in 1825 skipbreuk gely. Hy het om lewe en dood aan die wrakstukke van sy skip vasgeklou en was seker sy einde is naby. Toe kry hy egter die kruis bo-op die katedraalmuur in die oog. Hy het geweet dat die land in daardie rigting lê en dat hy daarheen moes swem om veiligheid te bereik. Later het hy ’n beroemde lied oor hierdie gebeurtenis geskryf. Die eerste woorde daarvan lui:
“In the cross of Christ I glory; towering o’er the wrecks of time; all the light of sacred glory, gathers round its head sublime.”
Dit is wat geloof is: om van jouself af weg te kyk – na Jesus. As jy vol twyfel is, as die Satan jou wys op jou sondeskuld, as jou hart jou veroordeel, as jou omstandighede dreig om jou onder te kry: Kyk na Jesus! Sien Jesus! Hou jou oog op Hom, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12:2).
By Hom is verlossing en veiligheid.
Geloof is om van jouself af weg te kyk – na Jesus.
Here Jesus, soms voel ek ek sink. Help my om juis dan vir U raak te sien. Amen.
Johan Cilliers