Boodskap vir Vandag

Search

Bron van ewige sagligheid

Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is (Heb 5:8).

Die groot kerkhervormer Martin Luther het altyd beklemtoon dat die boodskap van Christus onlosmaaklik verbind is met die kruis; dat ons sonder die kruis nooit die vrugte van verlossing en vergifnis sou gesmaak het nie. Hy het Christus vergelyk met ’n hertog wat ’n oorwinning behaal het oor die vyand wat sy onderdane bedreig het. So het Christus die stryd teen dood en duiwel gewen en aan dié wat aan Hom behoort die ewige vrede geskenk. Hy het dit egter nie gedoen deur geweld nie, maar deur sy eie dood aan die kruis. Daarom is Christus by uitstek die Gekruisigde! “Of ek wil of nie,” het Luther geskryf, “altyd wanneer ek die Naam Christus hoor, sien ek in my hart die beeld van die Man aan die kruis. Op Goeie Vrydag het Hy gely wat ons moes gely het: die straf; en het Hy volbring wat ons moes volbring het: die gehoorsaamheid tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” 

Dis natuurlik die taal van die Skrif. Hebreërs 5:8 sê Christus, hoewel Hy die Seun was, moes deur alles wat Hy gely het, leer wat gehoorsaamheid is. “En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword” (5:9). Volgens Luther bring hierdie reddingsdaad van Jesus – ons “bron van ewige saligheid” – natuurlik vir ons, die verlostes, louter blydskap. Daarom sê Luther ook: “Verbly julle in die Heer se Naam, die hoë en wonderbare Naam. Verheerlik sy genadedaad en goddelike reddingsdaad, wat Hom soveel gekos het.”

Hoe kan dit ook anders? Die lyding van Jesus roep ons op tot lof. Sy dood maak ons dankbaar. Want sy kruis maak ons kinders van God …

Of ek wil of nie, altyd wanneer ek die Naam Christus hoor, sien ek in my hart die beeld van die Man aan die kruis.

Jesus, ek sien U ook nou aan die kruis. Dankie. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.