En die bloed van Jesus, sy Seun, (reinig) ons van elke sonde (1 Joh 1:7).
Jesus se bloed het gevloei om ons sondes af te was. Dit is so. Dit staan vas. Hoe tragies dus dat ons dit so dikwels nie aanvaar nie; nie daaruit wil leef nie. Dat ons kies om eerder te vertrou op ons prestasies, ons goeie werke, ons ervarings of gevoelens. Net om te ontdek dat dit so wisselend en onstandvastig is soos die wolke in die lug …
Nee, slegs die bloed van Jesus reinig ons van elke sonde (1 Joh 1:7). Dit verwoord vers twee van Lied 239 so mooi: “En ek self – wat kan en doen om my sonde te versoen? Sou my hart met ywer gloei, sou my trane ewig vloei – nóg gebede, nóg geween kan my red, Heer; U alleen.”
Daar word vertel dat Luther, wat baie neerslagtig kon word, eenkeer in so ’n neerslagtige bui sy pen gegryp en op sy skryftafel uitgekrap het: “Ek is gedoop!” Daarmee wou hy sê: “Ek het die teken van die water ontvang wat my wys op die bloed van Jesus wat aan die kruis vir my gevloei het. Sou ek dit nie glo nie? Sou my depressie, my omstandighede, die versoekinge van die duiwel, iets hieraan verander? Nee! Ek is gedoop! Dit herinner my dat Jesus vir my gesterf het! Ek glo dit. Ek kan telkens as’t ware weer in my doop kom ‘inkruip’ om my daar veilig te voel. Daarmee werp ek my op die genade van God.”
Dit kan ons in elk geval doen. Selfs al is ons nie gedoop nie.
Ek kan telkens in my doop kom “inkruip”.
Jesus, soms kan ek nie eens kruip nie. Tel my tog op. Amen.
Johan Cilliers