Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur (Matt 27:51).
Jesus het soos enige ander mens gesterf. Hy het opgehou asemhaal. Sy hart het gaan staan. Die dood het ingetree. Uit die wond in sy sy het bloed en water gekom, ’n teken dat Hy werklik dood was (Joh 19:34).
En tog was sy dood anders. Hy sterf nie soos ’n tragiese held nie. Sy dood bevestig nie maar net die verganklikheid van alles nie. Nee, Hy sterf as Messias, as Middelaar.
Op die oomblik toe Jesus sterf, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur (Matt 27:51). En daarmee is toegang tot die Allerheiligste, tot God, verkry. Die hemel gaan oop! En nog was dit nie al nie: “Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan” (Matt 27:51-53). ’n Voorsmaak van, ’n voorspel tot, ’n introïtus op die einde!
Het iemand anders al so gesterf? Met Jesus se dood word hemel en aarde herenig, word die toekoms nader geruk, word die dood en die Bose oorwin. Wanneer Jesus sterf, bewerkstellig Hy die totale verlossing van die totale werklikheid. En dit alles omdat iemand sy lewe vir ander gee.
Waarlik, die woorde uit die geloofsbelydenis wat sê Jesus het gesterf, is ’n mondvol. Dis propvol heil. Vir die wêreld en vir my.
Wanneer Jesus sterf, bewerkstellig Hy die totale verlossing van die totale werklikheid.
Here Jesus, vergewe my dat ek nog so dikwels leef asof die hemel bokant my toe is, en die hel onder my oop. U is my Middelaar, my weg na my Vader! Amen.
Johan Cilliers