Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Een vir almal

Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Rom 3:12).

Christus se kruisdood het ’n hele paar sake duideliker gemaak as wat dit ooit tevore was. Een daarvan is die radikale verlorenheid van die mense, ’n grondige sondigheid. Daarom het die redding van so ’n wêreld so ’n verskriklike prys gekos.

Karl Barth, die bekende teoloog, het gesê: “Net omdat Christus moes sterf, moet ons aanvaar dat die hele wêreld doemwaardig is voor God.” Nêrens blyk dit duideliker as op Golgota nie. Nêrens word die donker dieptes van ons opstandigheid, ons ongehoorsaamheid, ons afvalligheid van God so skerp in die lig gestel as wanneer dit oor die land rondom Golgota donker word nie (Matt 27:45). 

Met die duisternis word die woorde in Romeine 3:10-12 as waar bewys: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.”

Soos ’n refrein klink dit op Golgota: Nie een nie, selfs nie een nie … almal. Sonder uitsondering. En tog ook nie. Want daar was op Golgota tog Een wat regverdig was, verstandig was, na die wil van God gevra het, goed gedoen het. Almal het nie afgedwaal en ontaard nie. Jesus verbreek die refrein wat ons verdoemenis so genadeloos uittamboer. Hy het vir ons ingestaan.

Die wêreld is nie meer verlore nie.

Soos ’n refrein klink dit op Golgota: Nie een is regverdig nie, selfs nie een nie … almal het ontaard. En tog ook nie! Een was regverdig.

Vader, ook ek tel onder die “nie een nie … almal”. Dankie dat dit om Christus ontwil nie meer vir U tel nie. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.