“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:55)
Dat Jesus begrawe is, het sy volgelinge daardie eerste dae met groot hartseer en wanhoop vervul. Maar vir ons hou dit net blydskap in. Want die graf is die straf op ons sonde … maar selfs hierdie uiterste straf het Jesus gewillig op Hom geneem. Hy het die ryk van die dood betree, namens ons.
Langs ons in die graf lê niemand minder nie as die Seun van God! Nie maar net om saam met ons in die afgrond van die verlorenheid weg te sink en saam met ons te sug en te ween oor ons sterflike lot nie (Van Ruler), maar ook om ons uit hierdie graf te verlos. Hy is immers as Verlosser by en met ons in die graf. So neem Hy die doodsteek uit die dood, die afgryse uit die graf. Paulus kon as’t ware op die rand van die oop graf staan en die skynbare bodemlose afgrond daarvan instaar, en tog triomfantlik, half-spottend, half-uitdagend uitroep: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? … Ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus” (1 Kor 15:54-55, 57).
Ons almal sal begrawe word. Ons sal terugkeer tot die stof waaruit ons geneem is. Dit is ’n werklikheid waaraan niemand kan ontglip nie. Maar daar is ’n groter werklikheid. Jesus kom tot langs my, in die graf, as Verlosser.
Ook daar hoef ek nie eensaam te wees nie. Selfs daar is Hy by my.
Jesus neem die angel uit die dood, die afgryse uit die graf.
Here Jesus, die eensaamste plek wat daar is, is die graf. Dankie dat U ook dit omskep het in ’n deurgang na die ewige gemeenskap saam met U. Amen.
Johan Cilliers