“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46).
Calvyn het gesê die woorde “ter helle neergedaal” staan nie om dowe neute juis aan die einde van die ry geloofstellings oor Jesus se lyding nie. Want hierdie woorde vat alles saam wat reeds daaroor gesê is; dit lê opnuut die aaklige diepte van sy lyding bloot.
Die woorde sê nie net dat Jesus ons met sy hellevaart van die hel verlos het nie; dit beklemtoon weer, dringender, dat Jesus erger gely het as enige mens voor Hom of na Hom. Hy is vervloek, verwerp, deur sy eie mense … en deur God. ’n Mens hoor sy helse smarte, sy absolute verlatenheid, in die kreet wat kort voor sy dood oor sy lippe kom: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46). Ons het werklik nie die vaagste benul watter lyding juis hierdie Godverlatenheid vir Jesus moes wees nie. Al wat ons kan sê, is: Dit was hel …
Die woorde “ter helle neergedaal” staan dus soos ’n uitroepteken aan die einde van die lydensgeskiedenis van Jesus. ’n Negatiewe uitroepteken, ’n kreet teen die Godverlate lug in. Die wonder is egter dat wanneer ons hierdie woorde, die uitroepteken, die kreet bely, ons vir seker kan weet: Dit sal nooit van ons waar wees nie!
Hierdie samevatting van Jesus se smarte is die samevatting van alles wat ons vryspring. Daarin hoor ons ook reeds die eerste klanke van dit wat op ons wag. Hel? Nee, hemel!
Die samevatting van Jesus se smarte is die samevatting van alles wat ons vryspring.
Here Jesus, u negatiewe uitroepteken plaas ’n positiewe uitroep op my lippe: Nooit van God verlate nie! Leer my om dit orals, altyd, te bely. Amen.
Johan Cilliers