En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig (1 Pet 3:19).
Behalwe Calvyn, het ook Luther aan die woorde “ter helle neergedaal” ’n interpretasie gegee. Hy sien daarin “die eerste flitse van die triomf van Christus”. Hy sê dit was nie alleen die laaste (laagste!) trap in die vernedering van Jesus nie, maar in sekere sin reeds die begin van sy verhoging. Want Jesus het, volgens Luther, na die hel gegaan om sy triomf ook daar te proklameer, om ook daar aan te kondig dat Hy die Here is …
Hoor ’n mens iets hiervan in 1 Petrus 3:19 wat sê Christus het na “die geeste in die gevangenis” gegaan om daar sy oorwinning aan te kondig? Hoe dit ook al sy, almal wat tot die sfeer van die hel hoort, die Satan en sy geeste, ook die ongehoorsame en ongeredde mense, moes dit hoor: Jesus is Here!
Kan ’n mens dit vir jou dramaties voorstel?
Hoe Jesus by wyse van spreke die deure van die hel stormgeloop en dit met soveel krag oopgegooi het dat dit van hulle skarniere afgeruk is en die splinters gespat het? Hoe sy stem tot in elke uithoek van die hel, tot in elke millimeter van die Godverlatenheid, weergalm het? Jesus is Heer! Want Hy is opgewasse teen die duiwel, die dood en die hel. Die ryk van die duisternis is omvergewerp. Die triomf van Jesus is kosmies; dis allesomvattend; dit ken geen grense nie.
En: As Christus die hel kan verower, sou die deure van my hart dan te sterk en die binnekant daarvan te donker wees vir Hom?
Nie naastenby nie …
Jesus het die deure van die hel so uit hulle skarniere geruk dat die splinters gespat het.
Jesus, hier is ek. Verower my. Amen.
Johan Cilliers