“Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek” (Luk 24:5-6).
Die wonder van die opstanding van Jesus uit die dood kan ons nie verklaar nie. Niemand wat al werklik dood was, drie dae dood was, het nog ooit herleef om daarna vir ewig te leef nie. Selfs Lasarus wat deur Jesus self opgewek is, sou later weer sterf. En tog het dit een keer gebeur!
Die engel het vir die vroue by Jesus se graf gesê: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” Amper verbaas. Asof hulle wou sê: Hy is (mos) nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek (Luk 24:5-6). Om dit te glo, om daarvan te getuig, is die beste wat ons kan doen.
’n Treffende illustrasie hiervan vind ons in die verhaal wat in ’n Russiese dorpie afgespeel het. Ná die Bolsjewistiese Revolusie is die plaaslike leier van die Kommunisteparty gestuur om die mense van die dorpie te oortuig van die deugde van die Kommunisme. Hy moes sy bes doen om hulle aandag weg te lei van die godsdiens wat Karl Marx “opium vir die volk” genoem het. Nadat die Kommunis hulle byna twee uur lank vurig toegespreek het, sê hy ewe minagtend vir die plaaslike Christelike leraar: “Ek sal jou vyf minute gee om hierop te antwoord.”
“Ek het nie vyf minute nodig nie,” was die leraar se antwoord, “vyf sekondes sal genoeg wees.”
Daarop gaan staan hy op die verhoog en gee hierdie opstandingsgroet: “Die Here het opgestaan.” Soos uit een mond het die dorpenaars gebulder: “Hy het waarlik opgestaan!”
Só het die vroeë Christene mekaar gegroet.
Só het hulle teenoor die wêreld getuig. Want so ís dit.
Niemand wat al werklik dood was, het nog ooit herleef om daarna vir ewig te leef nie. Behalwe Jesus.
Jesus, ek dank U dat ek vandag my broers en susters in u Naam, die Naam van die Lewende, kan groet. Amen.
Johan Cilliers