Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Graf sonder doodsbeendere

Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie (Hand 2:31).

’n Gesprek tussen Auguste Comte, ’n Franse filosoof, en Thomas Carlyle, ’n Skotse skrywer, het soos volg verloop:

Comte: “Ek gaan ’n nuwe godsdiens begin wat die geloof in Jesus Christus sal verdring. Dit sal geen geheimenisse en verborgenhede bevat nie. Dit sal so duidelik en voorspelbaar wees soos die vermenigvuldigingstafel. En die naam daarvan sal wees: Positivisme.”

Carlyle: “Indrukwekkend, meneer Comte, heel indrukwekkend. Ek sou sê u nuwe godsdiens het moontlik ’n kans op oorlewing. Al wat u hoef te doen, is om te praat soos geen mens al ooit tevore gepraat het nie; om te leef soos geen mens nog ooit geleef het nie; om gekruisig te word en op die derde dag weer op te staan uit die dood. En dan moet u nog net die wêreld laat glo dat u vir ewig leef. Dan staan u godsdiens ’n goeie kans om te vorder.”

Die boodskap van die evangelie is voorwaar uniek. Niemand kon Jesus dit nog ooit nadoen nie. Die graf van die Fransman Comte, en van alle ander mense, is vol doodsbeendere en stof.

Jesus se graf is leeg. Daar is geen doodsbeendere nie. Want: “Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie” (Hand 2:31).

Hy leef!

Die boodskap van die evangelie is uniek. Niemand kon Jesus dit nog ooit nadoen nie.

Here Jesus, daar was al so baie wonderlike mense op hierdie aarde, soveel groot geeste. Hulle beendere is bleek in hulle grafte. Maar U sit aan die regterhand van God, die Vader. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.