Nou het ons ’n lewende hoop (1 Pet 1:3).
Die datum: 8 April 1945. Die plek: ’n dodesel in die destydse oorlogverskeurde Duitsland. Die geleentheid: ’n erediens. Die gemeente: ’n paar terdoodveroordeelde mense. Die prediker: ’n Duitse teoloog wat weens sy geloofsoortuigings in die tronk gegooi is en binnekort tereggestel sou word. Sy naam: Dietrich Bonhoeffer. Sy teks: 1 Petrus 1:3. Wat ook ons teks vandag is: “In sy groot ontferming het God ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop.”
Bonhoeffer het beswaarlik klaar gepreek, beswaarlik die slotgebed gebid, toe die seldeur oopswaai en ’n stem beveel: “Prisonier Bonhoeffer, maak gereed en kom saam.” Almal in die dodesel het geweet wat dit beteken. Dit was hulle predikant se doodsaankondiging. Bonhoeffer sou gehang word. Hy het ’n vriend van hom eenkant toe geneem – dieselfde vriend wat later hierdie dramatiese toneel op skrif sou stel – en vir hom gesê: “My vriend, dit is dan die einde – vir my egter die begin van die lewe.”
Die dag daarna is Bonhoeffer by Flossenburg gehang. Kort daarna was die oorlog verby.
Só lyk “lewende hoop”. Dit is hoop wat selfs in die skadu van die galgtou jubel oor die lewe … saam met God. Want dit is gegrond op die opstanding van Jesus uit die dood. Daarom staan dit absoluut vas. Daarom is dit lewend!
Ons almal gaan êrens, eenmaal, ’n einde tegemoet. Waarskynlik sal dit nie aan ’n galgtou wees nie. Maar dit sal wees. Sal dit ook vir jou die begin van die lewe wees?
Het jy ’n lewende hoop?
Ons lewende hoop is gebou op Jesus se opstanding.
Here Jesus, laat ook my hoop lewe. Amen.
Johan Cilliers