Boodskap vir Vandag

Search

Ons oudste broer

Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely (Heb 4:14).

Jesus se hemelvaart waarborg vir ons ’n hele paar dinge. Omdat Jesus na die hemel gegaan het, staan Hy daarvoor in dat ons, indien ons sterf voordat Hy weer kom, veilig by Hom sal wees.

Hoe hierdie “tussentoestand” tussen ons sterfdag en die opstanding van die liggaam aan die einde sal wees, weet ons nie presies nie. Ons hoef dit ook nie te weet nie. Die belangrikste is: Ons sal by Jesus wees! Om te weet dat Jesus in die hemel vir ons intree en dat ons ná ons dood veilig by Hom sal wees, is ’n geloof waaraan ons te alle tye kan vashou. Hebreërs 4:14 sê: “Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.”

Daar word vertel van ’n man wat in ’n myn in die groot stad moes gaan werk om vir sy familie ’n inkomste te verseker. Hy het sy lewe lank net op die platteland gewoon en dit sou vir hom ’n vreemde ervaring wees. Toe iemand hom vra of hy dan nie bang is om te gaan nie, was sy antwoord egter: “Nee, my oudste broer is reeds in die stad en hy werk by dié myn. Ek is glad nie bang nie!”

So is dit met óns oudste Broer, Jesus, wat reeds die weg vir ons berei het. Hy is reeds daar in die “vreemde”. Ons hoef nie bang te wees nie. Wanneer ons sterf, is ons geborge by Jesus in die hemel. In die dood sal ons die saligheid niks minder geniet as in die lewe nie.

Inteendeel.

Wanneer ons sterf, is ons geborge by Jesus in die hemel.

Here Jesus, U het voor my uit gegaan. Oortuig my dat ek sonder vrees kan volg. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.