Boodskap vir Vandag

Search

Aan Gods regterhand

… hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom (Ef 1:21).

Jesus het gaan sit aan die regterhand van God. Maar wat beteken dit? God het tog nie hande of ’n liggaam nie? Natuurlik nie. Dit is maar menslike beeldspraak om iets oor die heersersposisie van Jesus te sê. As mense kán ons in elk geval op geen ander manier as in menslike terme oor Jesus en God praat nie. Die Bybel self is ook maar God se woord in mensetaal. Daarom gebruik Paulus in Efesiërs 1:19-20 ook beeldende taal wanneer hy Jesus se magsposisie probeer beskryf: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy [God] uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy.”

Wat wil die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Bybel met hierdie uitdrukking sê? Dit wil benadruk: Hierdie selfde Jesus wat gebore is, geleef het, gely het onder Pontius Pilatus, wat gekruisig is, gesterf het, begrawe is en ter helle neergedaal het, het ook opgestaan, opgevaar na die hemel en sit nou aan die regterhand van God die Vader. Hy wat in die magsposisie langs God sit, is niemand anders nie as die Een wat in die geskiedenis geleef en gewerk het, Jesus van Nasaret! En hiérdie Jesus, ons Verlosser, het alle mag in hemel en op aarde. Hy is die Here oor die geskiedenis, die wêreld, die kerk … en oor my.

Wát anders – geld, polisse, beleggings, mense se liefde, militêre beskerming – kan ’n mens meer troos as die wete dat óns Here álle mag het?

Jesus, ons Verlosser, het alle mag in die hemel en op aarde.

Here Jesus, help my om te onthou as ek vandag met die Bose handgemeen moet raak: daar is ’n sterker hand, ’n regterhand. U hand. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.