Toe het ek … ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was (Op 5:6)
Die koningsheerskappy van Jesus aan die regterhand van God is ’n heerskappy met geduld en liefde. Wanneer daar teenstand is teen hierdie heerskappy word dit nie dadelik met krag of geweld vermorsel nie – hoewel God natuurlik by magte is om juis dit te doen. Nee, omdat Jesus – die Middelaar tussen God en mens – die heersersposisie langs God ingeneem het, is daar verdraagsaamheid in hierdie regering. Die geskiedenis verloop onder die heerskappy van Jesus, maar dit is nog ’n tyd van genade. Dit bied mense nog die geleentheid om hulle hierdie heerskappy te laat welgeval, om hulle daaronder te skik.
Vir die menslike oog bly die heerskappy van Jesus dus meestal verborge. Dit kan lyk of Hy ’n kragtelose regeerder is. Maar juis só kies Jesus om te heers: nie as ’n gewelddadige stoomroller wat die geringste weerstand teen Hom en God platloop nie, maar as die Gekruisigde wat verhoog is.
Selfs wanneer Hy, volgens Johannes se visioen in Openbaring 5:6-7, as Lam die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit, is Hy nog “die Een wat geslag was”.
Sy heerskappy is met deernis. Hy is vir mense. Die Leeu uit die stam van Juda (Op 5:5) is ook ’n Lam. En Hy werk sag met my.
Jesus heers nie as ’n stroomroller nie, maar as Gekruisigde wat verhoog is.
Jesus, u sterk hand is sag. Rondom my. Amen.
Johan Cilliers