… soos ’n dief in die nag (1 Tess 5:2).
Dit is al die jaar 2019 … en steeds het Jesus nog nie teruggekom nie. Maar voor sy dood het Hy dan belowe dat sy dissipels Hom ná “’n klein rukkie” weer sou sien (Joh 14:19). Geen wonder nie dat Christene se verwagting deur die eeue heen begin verflou het. Dit was reeds vir die eerste Christene ’n probleem.
In 1 Tessalonisense 5 skryf Paulus dat hulle nie verontrus hoef te wees oor die uitbly van die wederkoms nie. Die “tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur”, is tog aan hulle bekend. Hulle wéét mos “alte goed dat die dag van Here onverwags kom soos ’n dief in die nag” (5:2).
Verrassend genoeg maak Paulus geen tydsaankondiging oor die wederkoms nie; hy beklemtoon net die onvoorspelbaarheid daarvan. Hy gebruik twee beelde om die onverwagsheid én die onvermydelikheid van die wederkoms te illustreer: die beeld van ’n dief wat onverwags in die nag opdaag om te steel, en die geboortepyne wat ’n swanger vrou skielik, onvermydelik, oorval. Só sal sommige mense, terwyl hulle nog sê: “Alles is rustig en veilig,” onverhoeds betrap word (5:3). Om die gesindheid van hierdie mense te beskryf, gebruik Paulus die beelde van slaap en besopenheid (5:7). Al praat hy hier dalk van letterlike dronkenskap is sy gedagtegang duidelik: Dié wat dronk is of slaap, is in ’n onwerklike toestand; hulle droom. Dié toestand noem hy “die nag” (5:7). Maar die werklikheid is: Die dag van die Here kom!
Daarom moet ons, soos die Tessalonisense destyds, onthou dat ons mense van die lig, die dag, is. Ons leef vanuit die werklikheid van die (weder)koms van die Here. Ons is nié van die nag, die duisternis, nie (5:5). Daarom moet ons wakker bly en nugter wees (5:6).
Die Here kom nie onverwag nie, maar wel onverwags.
Jesus, maak my wakker. Skud my as dit moet! Amen.
Johan Cilliers