“Mooi so, jy is ’n goeie slaaf” (Luk 19:17).
’n Mens kan op een van twee maniere verkeerd oor die wederkoms dink.
Aan die een kant kan jy so daarna uitsien dat jy jou aardse bestaan uit die oog verloor en selfs begin minag. Dan was jy jou hande in onskuld oor die “bose wêreld” en kan jy selfs so wêreldvreemd raak dat jy uiteindelik niks vir die koninkryk van God in hierdie wêreld beteken nie.
Aan die ander kant kan jy toelaat dat hierdie aarde, en die dinge wat daarmee saamgaan, vir jou so belangrik word dat jy die nuwe aarde en die nuwe hemel uit die oog verloor. Dan vergeet jy dat die aardse bestaan van verbygaande aard is en jy sien dit as volkome en finaal.
Hoe kan ’n mens koers hou tussen dié twee uiterstes? Ek dink ons doen dit die beste deur vir die Here te werk. In die gelykenis van die goue muntstukke gee die man wat weggaan (hy verteenwoordig Jesus) aan sy slawe (wat die dissipels verteenwoordig) goue muntstukke om mee te woeker (Luk 19:11-27). Hulle moet rekenskap gee wanneer die man – Jesus – terugkom.
Wat is die geheim van so ’n lewensingesteldheid?
Op dié manier bly Jesus se dissipels – ons! – besig met die aarde. Ons sou kon sê besig met die uitbreiding van die koninkryk, maar ons dink óók steeds aan die Een wat kom.
Só skerp ons werk vir ons Meester ons herinnering op, maar ook ons vooruitsigte op Hom wat kom!
Daarom: Werk! Want die dag van die Here kom nader …
Ons werk vir die Meester skerp ons herinnering op, maar dit hou ook ons vooruitsigte op Hom wat kom lewend.
Here Jesus, ek het al so baie jare van my lewe vermors. Help my om die volgende sekonde reg te gebruik. Ek wil vir U werk. Amen.
Johan Cilliers