Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe (2 Pet 3:14).
“As ek weet dat Jesus môre kom, sal ek vandag nog ’n boompie plant!”
Martin Luther se bekende woorde wys vir ons hoe ’n lewende geloof in die wederkoms ’n mens kan laat dink. Dit hou nie heeldag jou kop in die wolke nie, maar stuur jou terug na die aarde, na jou leefwêreld met sy verantwoordelikhede en geleenthede.
Die wete dat die Here weer kom, mag ons nie uit hierdie wêreld lig sodat ons onbruikbaar raak vir die koninkryk van God op die aarde nie. Nee, dit laat ons juis voor die aangesig van die Here leef. Petrus stel dit soos volg:
“Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe” (2 Pet 3:14).
Prakties beteken dit dat jou uitsien na die wederkoms jou ’n beter mens in hierdie wêreld maak: ’n beter kind, ouer, lewensmaat, kollega, landsburger, konstruksiewerker, huishulp, wetenskaplike, kunstenaar, onderwyser, politikus, atleet … Dit beteken jy sal die geleenthede wat hier vir jou aangebied word om die koninkryk te bou, aangryp. Dat jy juis hier op aarde, te midde van wanhoop en pessimisme, die Bybelse boodskap van hoop sal verkondig en veral sal lééf.
Daar is nog baie boompies wat geplant kan word. Sit joune vandag in die grond.
Die wete dat die Here weer kom, mag ons nie onbruikbaar maak vir die koninkryk van God in hierdie wêreld nie.
Here Jesus, U kom! Daarom sal ek met my vingers in die grond van hierdie aarde werk. Amen.
Johan Cilliers