Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geen toe-oë-afspraak nie

“Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het” (Hand 1:11).

Om te weet dat Jesus weer kom, hou vir ons die diepste troos in. Die eerste rede waarom dit so is, is dat ons die Een wat weer kom, kén! Dit is immers dieselfde Jesus wat hemel toe opgeneem is wat net so sal terugkom (Hand 1:11).

Dit is nie ’n gesiglose mag wat na ons toe kom nie; dit is ’n Persoon: Jesus Christus. Hy is, met eerbied gesê, die stetoskoop wat God se hartklop van liefde vir ons kom hoorbaar maak het. Dit gee nie rede tot vrees nie, maar tot vreugde!

Wanneer jy ’n onbekende mens gaan ontmoet, wonder jy: Hoe lyk hy? Watter persoonlikheid het sy? Watter talente, belange, waardes? Waaroor sal ons kan praat? Mense wat al ’n toe-oë-afspraak (blind date) met ’n onbekende man of meisie gehad het, ken dié soort vrae alte goed.

Maar, as jy weet jy gaan jou broer ontmoet, lyk die prentjie heeltemal anders. Jou handpalms hoef nie te sweet nie. Jou keel hoef nie toe te trek nie. Jy kén mos die een wat kom. Jy weet wat jy aan hom het.

Só is die wederkoms.

Ons het niks om te vrees nie. Ons hoef nie gespanne en onseker te wees nie. Dis ons Broer, Jesus, wat kom. Ons het nie ’n toe-oë-afspraak met Hom nie. Ons kén Hom.

Dit is nie ’n gesiglose mag wat na ons toe kom nie; dis ’n Persoon – Jesus Christus, ons Broer.

Jesus, ek sê vir U dankie dat ek ’n afspraak met U het. Help my om dit nie mis te loop nie. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.