Boodskap vir Vandag

Search

Onbesorgdheid

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Fil 4:6).

By die blydskap en vriendelikheid (inskiklikheid) kom ’n derde kenmerk van Christelike hoop, naamlik onbesorgdheid. Paulus sê: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6). Glad nie besorg nie? Nie in die sin van onverskillig en onverantwoordelik nie. Maar in die sin van nie angstig en besorg nie.

Iemand wat weet dat die Here naby is (Fil 4:5), weet immers ook dat hy of sy met al die sorge van menswees, met die groot of klein pakket van sy of haar bekommernisse van elke dag, gedra word deur die Here wat gekom het en weer sal kom. Hy neem ons mee in en deur die geskiedenis. ’n Mens wil byna se: Die krag van die eerste koms van Jesus “druk” ons vorentoe terwyl die suigkrag van sy tweede koms ons vorentoe “trek”. Wie bekommerd is, kan gerus die oog op die krip – en daarom die kruis en die leë graf – van Jesus hou. En op die wolke! As ons – ek en jy – dít raaksien, sal ons ontdek dat ons gedra word.

Gebed is die manier waarop ons ons begeertes, ons nood en ons behoeftes aan die nabye God bekendmaak. Gebed geskied deur te vra, met smeking, maar ook met danksegging vir wat God reeds gedoen het en vir seker nog sal doen. Met gebed laat ons ons kommer los, en ons vra God om ons, met ons kwota kommer, te dra. Want Hy is naby …

Met gebed laat ons ons kommer los en vra God om ons, met ons kwota kommer, te dra.

Here Jesus, ek werp my bekommernisse op U, want U sorg vir my. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.