Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Kor 5:10).
Wanneer Paulus waarsku dat ons almal voor Christus as Regter sal “verskyn” (2 Kor 5:10), gebruik hy ’n interessante en veelseggende woord. Letterlik sou ons “verskyn” ook met “openbaar” of “blootlê” kon vertaal. Want dit is presies wat met die eindoordeel gaan gebeur. Dié oordeel is nie bloot ’n privaat aangeleentheid tussen ons en die Here nie, nie ’n geslote onderonsie nie. Dit gaan ’n openbare gebeure wees, ja, ’n openbaarmakende proses.
Alles sal geopenbaar word. Dit begin by ons hart, by ons diepste motiewe en ons donkerste drifte. Al ons gedagtes, gesindhede en geheime begeertes sal oopgevlek word. Alle fatsoenlike bedekkings oor die verborgenhede van ons hart sal gelig word. Die lig van die oordeel sal straal tot in die diepste uithoeke van die ware “ek”. Tot in die kern van my bestaan.
Wat ’n ontnugterende gedagte!
Maar hierdie wete kan ook nou reeds ’n heilsame invloed op ons hê. Dit beweeg ons tot eerlikheid, daardie eienskap wat ons almal so knaend bly ontwyk. En tot opregtheid – om oop en bloot voor God en mense te leef; om nie van ons hart ’n moordkuil te maak nie. Of ’n kuil vir enigiets anders nie …
Ons hart is nie ’n moordkuil nie, maar die woonplek van God. ’n Tempel van die Heilige Gees. Wie die eindoordeel ernstig opneem, wil van binne gereinig wees. Gereed vir die oordeel …
Die eindoordeel is geen privaat aangeleentheid, ’n geslote onderonsie nie. Dit gaan ’n openbare gebeure wees.
Jesus, haal U self my maskers af. Amen.
Johan Cilliers