Here, U sien dwarsdeur my (Ps 139:1).
’n Paar jaar gelede het ’n deels lagwekkende, maar uiters veelseggende toneel afgespeel in een van die ateljees van die destydse SAUK in Durban. Twee van die personeellede het wederregtelik ’n TV in die SAUK-gebou gebruik om na ’n pornografiese video te kyk. Wat dié twee egter nie besef het nie, was dat daardie spesifieke TV op die een of ander manier ingeskakel geraak het by die uitsending van die hoofnuusbulletin vir daardie aand.
Miljoene TV-kykers, meestal in die uitsaaigebied van Natal, kon hulle oë nie glo nie. Skielik is die nuusberig – wat oor ’n verwoestende veldbrand het – sowat twintig sekondes lank onderbreek met ’n vuurwarm liefdestoneel wat baie min aan die verbeelding oorgelaat het. Die volgende dag het die SAUK, rooi in die gesig en warm onder die kraag, landwyd die nodige verskonings aangebied. Die twee skuldiges het hulle werk verloor.
Stel jou voor iets soortgelyks gebeur met jou: jou intiemste geheime, jou privaat binnelewe, jou ware motiewe, jou gesindhede, dryfvere en hartsbegeertes word skielik letterlik tot in die huise en gesigsveld van miljoene mense gedra, oopgevlek, aan die groot klok gehang …
Dit is presis wat met die eindoordeel gaan gebeur.
Laat ons dus gerus onthou: God sien dwarsdeur ons (Ps 139:1). Mag dit wees dat Hy niks anders nie as die beeld van sy Seun op die TV-skerm van ons hart sien. Mag die onwelvoeglikhede in ons hart plek maak vir die heerlikheid van die Seun van God.
Met die eindoordeel sal ons ware motiewe in die openbaar oopgevlek word.
Jesus, sien tog dwarsdeur my. Prent die beeld van u Seun op die skerm van my hart. Amen.
Johan Cilliers