Boodskap vir Vandag

Search

Ons gaan daar wees

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Kor 5:10).

’n Mens kan maklik die gedagte aan die oordeel van jou probeer afskud met: Ek is darem seker nie die slegste mens wat al ooit geleef het nie. Daar is tog baie ander wat eerder as ek die ewige oordeel verdien. Dink maar aan die Hitlers en die Nero’s. Veral as verloste Christene kan ons meen dat ons nie ons plek voor die regterstoel van Christus sal hoef in te neem nie.

Maar daar staan dit: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Kor 5:10).

Paulus verwys nie hier na die ongelowige wêreld nie. Hy praat nie van die Godloënaars of die geharde sondaars nie. Hy het nie die skuim van die wêreld in die oog nie. Hy dink nie aan dié mense wat ons volgens ons standaarde graag voor die oordeelstroon sou wou sien nie – hoewel hulle sekerlik nie uitgesluit sal wees nie.

Paulus praat hier van almal … ook van óns.

Hy skryf aan ’n gemeente van Jesus Christus, verloste mense, mense soos jy en ek. En hy sê: Ons gaan daar staan!

Natuurlik is God se oordeel oor geredde en ongeredde mense verskillend. Daaroor later meer. Nou moet ek en jy egter weet: Ons sal ook geoordeel word. En dit behoort die uitwerking op ons te hê dat ons ander mense al hoe minder sal oordeel. Dat ons anders sal oordeel. Dat ons al hoe meer daarvan sal afsien om op ons troontjie te sit en te probeer God speel. Veel eerder sal ons seker maak dat ons sonder verskrikking voor Hom kan verskyn …

Die wete dat ook ek geoordeel sal word, moet maak dat ek ander mense anders oordeel.

Here Jesus, laat my minder op my regte staan. Ek gaan immers voor u regterstoel staan. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.