Christus was sander sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Kor 5:21).
’n Jong man het in ’n vlaag woede ’n moord gepleeg. Hy is in hegtenis geneem en moes in die hof verskyn. Aan sy sy was ’n vernuftige advokaat wat sy saak so goed bepleit het dat die jong man vrygespreek is.
Etlike jare het verbygegaan. Op ’n dag het dieselfde jong man se humeur weer so opgevlam dat hy in ’n onbesonne oomblik iemand te lyf gegaan en vermoor het. Weer moes hy in die hof verskyn. Tot sy verbasing merk hy dat dieselfde man wat jare gelede sy advokaat was nou as regter optree. Sy hoop het opgevlam. Die man sou mos weer vir hom intree! Groot was sy ontnugtering egter toe hy aan die einde van die verhoor uit die mond van die regter moes hoor: “Voorheen was ek jou advokaat. Nou is ek jou regter. Ek het geen ander keuse nie as om jou die doodsvonnis op te lê.”
Die allegorie is duidelik: Dieselfde Jesus wat ons Advokaat (Verlosser) is, is ook ons Regter. Ons gaan immers voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Kor 5:10). Daarby kom egter, genadiglik, nog dit: Ons Advokaat word self die Beskuldigde. Hy gaan staan in ons plek in die beskuldigdebank. Hy word in ons plek as sondaar behandel (5:21). En Hy hoor uit die mond van die Regter: “Aan die kruis sal jy hang …”
Dit is wat Jesus vir ons is: Beskuldigde, Advokaat, Regter. Laat ons dan, ook in onbesonne oomblikke, vanuit dié wete leef. Laat ons ophou om moord van enige aard te pleeg.
Dit is wat Jesus vir ons is: Beskuldigde, Advokaat, Regter.
Here Jesus, ek is vrygespreek! Want U is veroordeel. Dankie. Amen.
Johan Cilliers