Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel (Joh 3:18).
’n Bekende agnostikus het landwyd dramatiese lesings gegee om die Bybel en die bestaan van God in twyfel te trek. Toe hy een aand ’n gehoor in ’n sekere dorp toespreek, het hy weer baie welsprekend sy twyfel oor ’n toekomstige oordeel uitgespel. Toe hy klaar was, staan daar agter in die saal ’n man op wat in die dorp bekend was vir sy Godlose, roekelose lewe. Ietwat aangeklam sê hy toe: “Ek hoop jy is reg, want dis waarop ek ook reken.”
Is dit nie waarop ons – soms – ook reken nie? Want die gedagte aan ’n eindoordeel gaan teen ons grein in. Veral een gedagte is vir ons te veel: dat God, wat ons so deur en deur ken, ons moet oordeel. Dus probeer ons daaromheen redeneer; daarom vervang ons dit met versagtende frases, of ons verwerp dit geheel en al. En tog weet ons, het ons ’n primitiewe aanvoeling, dat alles in die lig van die oordeel te staan moet kom. Dit kan nie anders nie.
Wie egter maar iets van die evangelie verstaan, hoef die oordeel nie dood te praat of weg te wens nie. Want die evangelie sê dat die oordeel van ons afgewend kan word, ja, reeds afgewend is! Dit lui: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie” (Joh 3:16-18a). Maar ook: “Dié wat nie glo nie, is reeds veroordeel” (3:18b).
Dat ons dit tog kan glo!
Wie die evangelie verstaan, hoef die oordeel nie weg te wens nie.
Here Jesus, ek glo. Kom tog my ongeloof te hulp. Amen.
Johan Cilliers