Troos mekaar dan met hierdie woorde (1 Tess 4:18).
In die Apostoliese Geloofsbelydenis word daar nadruklik onderskei tussen die oordeel oor “dié wat nog lewe” en “dié wat reeds gesterf het”. Waarom? Dit hou waarskynlik verband met die feit dat sommige van die vroeë Christene verward was toe daar van hulle medegelowiges gesterf het voordat die Here weer gekom het. Hulle het Hom immers nog in hulle leeftyd verwag (1 Tess 4:13-18).
Daar is egter ook ’n ander, belangriker, rede.
Met die uitdrukking “dié wat nog lewe” sê hierdie geloofsbelydenis dat die wederkoms op ’n spesifieke dag in die geskiedenis sal plaasvind, op ’n dag wanneer mense nog lewe. Dit sal ’n dag wees wat oënskynlik soos enige ander dag is, ’n dag wanneer jy in die oggend opstaan, ontbyt eet, nuus kyk, motor bestuur, trein ry, werk toe gaan … Op so ’n doodgewone dag kan Jesus weer kom.
Daarmee wil die belydenis veral drie sake onderstreep. Eerstens, die wederkoms is ’n historiese aangeleentheid; tweedens, ons moet waaksaam wees; derdens, alle lewendes, ook die magtiges en die vreesaanjaendes, sal deur die Here geoordeel word.
Die eerste saak is ’n wonderlike troos: Jesus se koms is nie ’n sprokie wat teoloë uitgedink het nie. Dit gaan ’n historiese, ware werklikheid wees. So seker as wat jy nou hierdie woorde lees, so seker as wat die aarde om sy as draai, so seker as wat die son skyn … so seker sal Jesus weer kom. En al sou al hierdie dinge nie meer gebeur nie, sal Jesus steeds kom. Want God het dit belowe.
Jesus se wederkoms is nie ’n sprokie nie. Dit is ’n vaste werklikheid.
Here Jesus, kom tog vandag! Amen.
Johan Cilliers