Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit (Ps 2:4).
Die derde element van troos in die geloofsbelydenis se woorde dat Jesus sal oordeel oor dié wat nog lewe, is die gedagte dat álle mense wat nou leef, ook die magtiges en die vreesaanjaendes, aan die Here rekenskap sal moet gee van hulle doen en late. Hierdie woorde sou die vroeë kerk beslis aan die magtige Romeinse keiser laat dink het. Dalk het hierdie belydenis by baie van hulle opgekom terwyl hulle in die arenas voor die gillende skare op die leeus gewag het …
Feit is, die laaste woord in hierdie wêreld word nie gespreek deur dié wat die podiums van die politieke toneel vul nie. Die geskiedenis is nie bloot ’n reeks politieke skuiwe wat die magtiges op die skaakbord van die wêreld maak nie. Almal moet uiteindelik voor die troon van God verskyn. Aan Hom sal hulle rekenskap gee van hulle dade en motiewe en planne.
Hierdie wete kan ons oneindig troos. Ons is nie aan mense uitgelewer nie. Ons eindbestemming word nie deur maghebbers bepaal nie. Dit is nie die politici, die ekonome en die wetenskaplikes wat die aarde laat draai nie. God is in beheer. Wanneer daar onrus onder die volke is en die nasies smee planne teen die Here, wanneer die konings van die aarde in opstand is en die leiers teen God saamspan, lag Hy wat in die hemel woon hulle uit en Hy spot met hulle (Ps 2:1-4).
Want Hy spreek die laaste woord.
Die politici, ekonome en wetenskaplikes laat nie die aarde draai nie en spreek nie die laaste woord nie. God wel.
Here Jesus, U is die Begin en die Einde – van alles en almal. Amen.
Johan Cilliers