Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie (2 Kor 5:7).
Nog ’n rede waarom die Apostoliese Geloofsbelydenis so kort en kragtig oor die Heilige Gees praat, is dat die gevaar van subjektiewe verwarring hier so groot is. Daarmee bedoel ek: Omdat die Heilige Gees op so ’n besonderse manier met en in mense werk, kan dit maklik gebeur – en gebeur dit inderdaad – dat mense later hulle geloof op hulle subjektiewe ervarings (“innerlike belewing”) van die Gees laat rus. Daarmee sê ek nie dat hierdie ervarings noodwendig oneg of verkeerd is nie. Natuurlik nie! Die Gees laat ons tog ook emosie ervaar.
Feit is, ons glo nie in hierdie ervarings nie; ons glo in die Gees. Om dus misverstand hieroor te voorkom, sê die geloofsbelydenis net: “Ek glo in die Heilige Gees.” Ook wat die Gees betref, moet ons sê: “Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie” (2 Kor 5:7).
Hierdie saak is regtig baie belangrik. Daarom moet ons die volgende onderskeid goed verstaan:
Die Heilige Gees gee wel aan ons die heerlikste ervarings van God se genade en teenwoordigheid. Dit is sy werk. Maar hierdie ervarings gee nie aan ons die Gees nie! Ons geloof in Hom hoef daarom nie te wankel wanneer ons gaan deur tye wanneer die Gees skynbaar niks of min in ons lewe doen nie.
Ook dan werk Hy, want niks kan die Gees stuit nie. Ons moet net altyd versigtig wees om nie die “wa” van ervaring voor die “perdekrag” van die Gees in te span nie. Laat ons vandag die Heilige Gees vertrou. Met of sonder ervarings.
Die Gees gee aan ons ervaring, maar ervaring gee nie aan ons die Gees nie.
Gees van God, skenk aan my die geloof. Dit is genoeg. Amen.
Johan Cilliers