Laat die Gees julle vervul (Ef 5:18).
Oor die werk van die Heilige Gees is daar by baie mense verwarring. Hulle wonder en bespiegel oor die vraag: Wanneer ontvang ’n mens die Heilige Gees? En: Hoe weet ek dat ek wel die Heilige Gees ontvang het?
Daar is ’n paar beginsels waardeur ’n mens jou kan laat lei:
Eerstens, die drie Persone van die Drie-eenheid is een Wese. Dit beteken as jy vir Jesus ontvang het, dit wil sê, as jy in Hom glo, ontvang jy terselfdertyd die Vader en die Gees. Hierdie drie Persone kan nie geskei word nie. Daarom verduidelik Romeine 8:9 dit soos volg: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort Hy nie aan Christus nie.” Dit lyk dus onmoontlik dat ’n mens gered kan wees sonder om die Gees in jou te hê – sodat jy nog met Hom “vervul” moet word.
Tweedens, al het ons die Gees ontvang – en wel die “volle” Gees, en nie net ’n deel van Hom nie (Hy is immers ’n Persoon wat nie net gedeeltelik in jou kan woon nie) – beteken dit nie ons het nou volmaak geword of dat ons elke dag ten volle onder die heerskappy van die Gees leef nie. Die volle Gees is in ons, maar ons is nie altyd ten volle aan Hom gehoorsaam nie.
Daarom roep Paulus gelowiges op: “Laat die Gees julle vervul” (Ef 5:18). Die bedoeling met die woord vervul is dat die Gees al hoe meer, in elke ruimte van ons lewe, beheer sal oorneem. Dat ons al hoe voller sal word van die besef wat God in Christus van ons maak. Dit is iets wat elke dag, elke oomblik van ons lewe, moet plaasvind.
Derdens, dit alles is ’n saak van geloof. Glo dat die Gees in jou woon. Wy jou aan Hom toe. Glo dat Hy jou vervul. Leef vanuit hierdie geloof.
Die volle Gees is in ons, maar ons is nie altyd ten volle aan Hom gehoorsaam nie.
O Gees, vervul my weer en weer – tot die volheid van God. Amen.
Johan Cilliers