Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? (1 Kor 6:19).
As ons sê: “Ek glo in die Heilige Gees,” bely ons daar is ’n allerintiemste verhouding tussen ons en Hom. Hy is immers ín ons! Van God die Vader kan ons sê: God is vír ons (Rom 8:31). Van God die Seun weet ons: God is bý ons (Matt 1:23). Van die Heilige Gees kan ons nou byvoeg: God is ín ons!
Dit is ’n oorweldigende gedagte: Deur sy Gees het God in mense – ook in ons – sy woonplek gemaak. Let weI, dit is nie maar net ’n ietsie van God wat in ons is nie. Dit is ook nie iets goddelik wat God in ons ingeskep het nie. Dit is God, die ware en volle God self, wat deur sy Gees in ons aanwesig is! Sien jy hoe ontsettend baie sê hierdie kort en bondige belydenis werklik?
Vir ons om te verstaan wat die “inwoning” van die Gees regtig beteken, is natuurlik baie moeilik. Ons moet altyd onthou dat die Bybel die onbeskryflikheid van God se wese maar altyd in ontoereikende menslike taal en beelde moet probeer uitdruk. Miskien moet ons in elk geval nie in aardse terme oor die woorde “woon in ons hart” (Ef 3:17) nadink nie. Dit is ’n geloofsaak. Wat ons weI weet, is dat hierdie inwoning tot ons heil is, dat dit ons red, heilig en verheerlik … Dit sê veral vir ons dat ons vir God so belangrik is dat Hy ons sy woonplek maak. Ons liggame is ’n tempel van sy Gees (1 Kor 6:19). Waarlik, wie die ses woorde “Ek glo in die Heilige Gees” bely, kan nie ’n minderwaardigheidskompleks hê nie.
Maar sê nou jy voel vandag nikswerd en minderwaardig? Sê dan die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis weer en weer. En glo dit.
Wie die Heilige Gees bely, sal nie ’n minderwaardigheidskompleks hê nie.
Gees, U woon in my. Wonderlik! Wonderbaarlik! Amen.
Johan Cilliers