Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (Gal 5:25).
Wanneer ons bely dat God deur sy Gees in ons woon, beteken dit nie ons en God word nou op die een of ander mistieke manier een nie. Nee, God bly steeds God, en mense bly nog mense. Ons word nie een nie, maar bly twee. Van Ruler sê dit is ’n egte inwoning.
En, soos dit met alle inwoning of losie gaan (in elk geval waar mense by betrokke is), bring dit sy kwota rusie en stryd mee. Paulus noem dit die stryd van ons sondige natuur teen die Gees. Hy sê: “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar.” Dan maak hy hierdie belangrike afleiding: “Daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie” (Gal. 5:17) en gee hierdie raad: “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (5:25).
Watter oneindige geduld het die Gees nie met ons nie! En hoe dikwels bedroef ons Hom nie. Hoe dikwels laat ons nie toe dat die sondige natuur ons gedrag bepaal nie. Hierdie wete dat God die Gees dit met ons uithou – al is ons sondige en onwillige “huis”-genote – behoort drie reaksies by ons te ontlok:
Eerstens, dankbaarheid teenoor God. Tweedens, groter ongeduld met my ons sonde. Derdens, meer geduld met ander mense, met ander sondige en onwillige huisgenote van die Gees!
Hierdie driepunt-ingesteldheid is goed vir jou hele lewe. Begin dan vandag nog …
Ons word nie een nie, maar bly twee. God bly nog God en mens bly nog mens.
Heilige Gees, ek veroorsaak dikwels die huismoles. Heilig my nogtans. Amen.
Johan Cilliers