… maar op grond van sy eie ontferming (Tit 3:5).
Søren Kierkegaard, die groot Deense filosoof, skryf in een van sy boeke die volgende oor die mens:
“Die mens is in sonde gebore en leef daarin. Ons kan vir onsself niks doen nie; ons kan onsself net benadeel. Ons begin vandag erken dat die mens ten spyte van eeue se vrugtelose godsdienstige, kulturele, morele en opvoedkundige pogings steeds ’n onvermoë het om ons eie harte te verander. Ons het vergeefs geswoeg om ons morele doelwitte te bereik en onsself te verander deur ons omgewing te verbeter. Nou is ons ontnugter en besef ons dat die verandering op die een of ander manier van binne sal moet kom.”
Kierkegaard is reg. Ons moet verander word. Van binne. Die Bybel noem dit onder meer weergeboorte. Dit is juis die werk van die Heilige Gees om ons só te verander. Ons moet verander word, nie op grond van iets wat ons self vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van God se ontferming. “Dit het Hy gedoen,” sê Titus 3:5-6, “deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.”
Het jy al verander? Jy sê jy probeer telkens, maar jy kry dit net nie reg nie? Jy sê wat jy ook al doen om te verbeter, as jy weer sien, doen jy maar weer dieselfde ou verkeerde dinge?
Laat God die Gees dit doen! Jy probeer verniet van buite af. Hy doen dit van binne. Deur jou hart te verander. Deur die weergeboorte. Jy kan dit op geen manier deur jou wilskrag vermag nie. Die Gees moet dit doen! En niemand doen dit beter as Hy nie.
Ons moet verander word. Van binne. Die Gees moet dit doen.
O Heilige Gees, verander my, vernuwe my. Ek het nou genoeg self probeer. Amen.
Johan Cilliers