Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou (Ef 1:18).
Ons almal was al in omstandighede toe ons graag wou weet wat God se wil vir ons lewe in daardie spesifieke situasie was. Dalk was dit met die keuse van ’n beroep, ’n woonplek of ’n lewensmaat. Ons weet wel wat God se wil vir ons in die breë is: dat ons gered sal word, heilig sal leef en Hom sal verheerlik en liefhê. Maar hoe gemaak as dit gaan oor die praktiese situasies van elke dag?
Juis hier is die werk van die Heilige Gees onmisbaar. Dit is egter belangrik om te weet dat die Gees ons normaalweg nie op ’n bonatuurlike manier lei nie. Ons hoor nie stemme nie en ons sien nie visioene nie, al kan niemand beweer dat sulke dinge vir die Gees onmoontlik is nie.
Ons moet egter ’n paar dinge in gedagte hou wanneer ons na God se wil vir ons lewe soek. Eerstens, die Gees lei ons deur die Woord. Dit beteken nie ons moet verwag dat die Bybel pasklaar antwoorde vir elke moontlike vraag van ons leeftyd gaan gee nie. Dit gee ons wel oorgenoeg beginsels waarvolgens ons kan leef. Ons mag byvoorbeeld nie in ’n situasie van konflik kies om met wraakmotiewe op te tree nie, want die beginsel wat die Bybel ons leer, is om te vergewe. Ons mag ook nie iets uit haat doen nie, want die Bybel leer ons dat ons moet liefhê. Selfs ons vyande!
In elke spesifieke situasie moet die Heilige Gees veral ons verstand verlig sodat ons die Woord reg kan verstaan. Dit is immers die Gees se profetiese taak om God se wil aan ons te openbaar, ook in die “klein” sake van elke dag. Die Gees gee vir ons wysheid en verhelder ons geestesoë (Ef 1:17-18).
Lees gerus vandag jou Bybel. Die Gees sal jou daarin God se wil laat hoor!
Die Bybel bied nie pasklaar antwoorde op ons baie vrae nie, maar dit gee vir ons beginsels waarvolgens ons kan leef.
O Gees, gee dat u wil ook my wil sal word. Amen.
Johan Cilliers