Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die waarheid van die Woord

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh 16:13).

As die Heilige Gees nie aan ons geopenbaar het dat die Bybel die Woord van God is nie, sou die Bybel vir ons ’n geslote boek gebly het. Gelukkig is dit deel van die Gees se profetiese werk om die Woord van God vir ons te ontsluit. Want ’n mens kan baie “Bybelkennis” hê, die name van al die aartsvaders en hulle kinders en dié se kinders ken, al tien die plae in Egipte opnoem, al die name van die profete en die dissipels en al die Bybelboeke in die korrekte volgorde opnoem, kortom, al die inligting in die Bybel op die punte van jou vingers hê … en tog nie vir God daarin hoor praat nie.

Jy kan elke jaar jou Bybel twee keer deurlees sonder om ’n enkele woord van God daarin te hoor. Jy kan bekendstaan as “iemand wat die Bybel goed ken” en tog eintlik niks van die Bybel weet nie – omdat jy die Gees nie toelaat om dit vir jou ’n lewende Woord te maak nie.

Juis daarom is ’n mens nooit klaar gelees aan die Bybel nie. Dit bly altyd vars en nuut. Bekende verse kan jou telkens op ’n ander en verrassende manier tref. Jy kan daarin dinge ontdek wat jy voorheen nooit raakgesien het nie. Deur die eeue heen het die Gees die Woord aan die kerk verklaar, ons al hoe dieper in die wonder van die Woord ingelei. Want die Gees lei ons in die hele waarheid (Joh 16:13).

Wanneer jy vandag jou Bybel oopmaak, of Sondag kerk toe gaan en na die Woord luister, doen dit met groot afwagting en opgewondenheid. God die Gees wil met jou praat!

Wanneer jy vandag jou Bybel oopmaak, doen dit met groot afwagting en opgewondenheid.

Heilige Gees, die Woord voor my is oop. Ek luister. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.