“Wat Hy sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor” (Joh 16:13).
Toe ek ’n kind was, het ons graag “telefoontjie” gespeel. Dié speletjie behels dat ’n paar kinders in ’n ry staan. Die speler aan die een punt van die ry dink ’n frase of sin uit en fluister dit in die oor van die volgende speler. Die sin of frase word dan in die ry af herhaal tot by die laaste speler. Die laaste speler moet dan sê wat hy of sy gehoor het. As hierdie speler die verkeerde woorde sê, moet hy of sy plek maak vir die speler agter hom of haar. Die wenner is die een wat die “boodskap” die meeste kere reg hoor en herhaal.
Die groot pret is natuurlik om te hoor hoe verkeerd die oorspronklike woorde herhaal word, hoe die boodskap al in die ry af al hoe meer verdraai oorgedra en gehoor word. Hoe meer verwronge die boodskap aan die ander kant uitkom, hoe prettiger! En, natuurlik, dra almal in die ry die boodskap so saggies en onduidelik moontlik aan die volgende speler oor, juis om verwarring te saai.
Die Heilige Gees dra ook ’n boodskap aan ons oor. Dié boodskap word deur die Vader aan die Seun oorgedra, en deur die Seun aan die Gees, en deur die Gees aan ons. Dit kom as’t ware ook in die ry af. Wat die Gees sê, kom nie van Homself nie; Hy sê net wat Hy hoor (Joh 16:13). Maar, die Gees hoor net wat goed en reg is. Die blye boodskap word nie verwring nie. Dit klink hard en duidelik in ons ore op en dit word in die Bybel gestaaf.
Hoor ons die boodskap reg? En, dra ons dit duidelik aan ander oor?
Die blye boodskap klink hard en duidelik in ons ore op en word in die Bybel gestaaf.
Heilige Gees, help my om helder te hoor, en helder te sê. Amen.
Johan Cilliers