Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vaartbelyn vir die hemel

… maar die Gees self pleit vir ons (Rom 8:26).

Om elke dag God se wil vir ons lewe te soek moet ons, buiten die riglyne wat die beginsels in die Woord ons bied, nie vergeet van die krag van gebed onder leiding van die Heilige Gees nie. Dit is die Gees se priesterlike taak om ons in ons gebede te onderskraag, want “ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom 8:26).

Die Gees maak ons gebede “vaartbelyn” vir die hemel. Hy omskep ons gebede só dat God dit hoor … en beantwoord. Moontlik anders as wat ons ons voorgestel het, want – al klink dit ironies – kan dit ’n goeie teken wees as God anders antwoord as wat ons vra. Die beste gebede wat ons bid, is dikwels dié wat skynbaar “onbeantwoord” bly.

Martin Luther het hieroor gesê: “Dit is die allerbeste teken wanneer, as antwoord op ons gebede, skynbaar die teenoorgestelde gebeur. Net so is dit ook geen goeie teken wanneer, as antwoorde op ons gebede, alles na wense verloop nie. Hy [God] gaan soms teen ons gedagtes in, sodat dit lyk of Hy na ons gebede nog meer toornig op ons is as voor ons gebede. Dit doen Hy alles slegs omdat dit sy aard is om eers te verwoes en tot niet te maak wat in ons is voordat Hy ons sy gawes skenk.”

Ja, God antwoord soms teen ons grein in.

Maar Hy antwoord altyd. Soms moet Hy verwoes en tot niet maak sodat sy wil in ons gebede kan seëvier. Miskien moet dit vandag met jou gebeur. Miskien moet God eers verwoes en tot niet maak sodat Hy sy gawes aan jou kan skenk. As God vandag jou gebed hoor, wees bly. Doen Hy dit nie soos jy dit gevra het nie, moenie minder bly wees nie. Dit beteken: Sy gawes is op pad. Sy wil geskied in jou lewe.

Die beste gebede wat ons bid, is dikwels dié wat skynbaar “onbeantwoord” bly.

Heilige Gees, dankie dat U beter as ek sug. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.