Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Leiding of luiheid?

Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Fil 2:13).

Wanneer ons vra na God se wil vir ons lewe, is daar ’n derde saak wat ons in gedagte moet hou: die feit dat die Here vir ons gesonde verstand gegee het.

Dit is verskriklik belangrik dat ons dit reg sal verstaan: Die Here lei ons meestal op ’n heel natuurlike manier, só dat ons dit dikwels nie eens agterkom nie. Daarom is “natuurlike” dinge, soos jou gesonde verstand, nie sonder meer verkeerd nie. Die Heilige Gees lei ons ook daardeur, op ’n heel “gewone” manier.

Klaus Harms, ’n Duitse dominee uit ’n vorige eeu, het die volgende storie vertel. Een week het hy besluit om nie sy preek vir die Sondag voor te berei nie. Hy sou net op die kansel klim en vertrou dat die Heilige Gees vir hom die woorde sou gee. Hy het dus bonatuurlike leiding deur die Gees verkies bo die gewone, natuurlike manier van dinge doen. Hy vertel verder: “Ek het wel die betrokke Sondag ’n stem op die kansel gehoor. En dit was die stem van die Heilige Gees. Maar Hy het vir my gesê: ‘Klaus, Klaus, jy was lui!’”

Natuurlik kan die Gees predikante op die kansel bystaan en vir hulle die regte woorde gee. Maar dikwels is dominees, gelowiges, sommer net lui. Dikwels laat ons na om te gebruik wat God reeds vir ons gegee het.

Ons het geen verskoning nie. Filippense 2:13 sê God maak ons “gewillig en bekwaam om sy wil uit te voer”.

Daarom, bestudeer die Woord, bid tot die Here om jou te lei, neem (met jou verstand) jou besluit … en vertrou.

Die Here lei ons meestal op ’n heel natuurlike manier, só dat ons dit dikwels nie eens agterkom nie.

Heilige Gees, lei my uit my luiheid. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.