Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie (Op 3:8).
Daar is ’n vierde manier waarop die Heilige Gees ons in die Here se wil lei: deur uiterlike omstandighede. Die Gees is immers nie net aan die werk in die kerk of in individuele gelowiges se lewe nie; die Gees is oral in die wêreld en die geskiedenis aan die werk. Die Gees sit Jesus se koninklike heerskappy voort. Só was Hy al voor Christus ook werksaam, tydens die skepping, en deur die loop van die eeue, tot vandag toe.
Dit beteken die Gees kan omstandighede só skik dat ons ook daardeur ’n aanduiding kan kry van die rigting waarin God wil hê ons moet gaan. Paulus en Timoteus het dit byvoorbeeld op Paulus se tweede sendingreis ervaar. Ons hoor dat die Gees hulle “verhinder” het om die evangelie in Asië te gaan verkondig en dat Hy hulle “nie toegelaat het” om na Bitinië te gaan nie (Hand 16:6-7). Hoe dit presies gebeur het, weet ons nie. Ons kan egter aanvaar dat die omstandighede veel daarmee te doen gehad het. Só maak die Here ook vir ons deure oop of toe … (Op 3:8).
Prakties beteken dit jy moet jou oë en ore oop hou. Hou op om jou kop te stamp teen deure wat die Here lankal voor jou toegemaak het, en hou op om by deure verby te loop wat wawyd oop staan. Berus in wat God vir jou in gedagte het. Jy kan seker wees dit sal baie, baie beter wees as dit wat jy vir jouself in die vooruitsig gestel het.
God kan omstandighede só skik dat ons daardeur sy rigting vir ons lewe ontdek.
Heilige Gees, laat my met U wandel – deur God se deure. Amen.
Johan Cilliers